Home
                 Affiliated to:
Off-Road Radio Association  Association of All Wheel Drive Clubs South Africa
  Home
  Visit our Preferred Suppliers
 
  ARTICLES  
 

Face of the Namib - 29th December 2007 to 3rd January 2008

Gedurende die pas afgelope vakansie het 'n paar lede van die Offroad Adventure Klub, Clive en Elna Staffen, Emile en Jeanne le Roux, Koos en Petro Pieters (Paternoster) en Rudi en Mien Opperman saam met "The Journey" besoek gebring aan die Namib Woestyn. Hierdie is 'n betreklik "nuwe" roete wat so vanaf April 2007 sy ontstaan gehad het toe "The Journey" Prof Dave Pepler van die KykNet program "Groen" langs hierdie ou ossewa roete die woestyn ingeneem het om 'n reeks vir dié program te verfilm.

Die vertrekpunt was Solitaire Guest Farm so ±6 km vanaf die befaamde Solitaire - appel pastei en al ! Saterdagaand 29/12/07 het die gidse van Uri Adventures aangekom en ons het ons mede woestyn reisigers ontmoet en is getrakteer op 'n heerlike beesstert (oxtail) pot. Hierdie was maar net die begin van vele heerlike etes om die kampvuur vir die volgende 5 aande.

Sondagoggend 30/12 - ons vetrek - in by die "Namib Naukluft Park" hek - net 'n rooi twee spoor sandpaadjie wat uit jou sig in die weste verdwyn deur die vaal stomp gras - en ons betree 'n sprokieswêreld - die Saagberg (waar die ossewa roete langs geloop het - amper onmoontlik om te glo mense het hierlangs met waens en osse getrek en tog is die bewyse daar!) aan ons suidekant - 'n paar "fairytrees" staan soos wagte langs die pad. Klein troppe Gemsbokke en Zebras lei ons verder die woestyn in - tussen die "fairy circles" deur (die gids gee so paar teorië oor hulle onstaan - ek hou van die "gholfbaan" een) Deurlopend verander die landskap en laatmiddag smelt ons pad saam met die Kuiseb en ons staar na 3 wêrelde in een - rooi duine suid van jou - groen ravyn en rivier bed onder jou en swart klipwoestyn noord van jou. Ons sak in die Kuiseb af - en ek bedoel ons sak af !! sjoe ! In die rivierbed is dit eers tyretjies opblaas en toe is dit Berg op - net gou oor 'n paar klippertjies sê die gids HA ! Van Zyl's pas is 'n vulletjie - bo op die berg slaan ons kamp op vir die aand. Van hier kan jy sommer wyd sien reg rondom - doer in die ooste pak die donderwolke saam en deur die blitse kan ons sien hoe die reën val - goeie nuus vir die "voor Namib" boere.

Maandag 31/12 - verder op met die Kuiseb - besoek 'n sytak waar ons sien hoe die diere soutwater oopkrap om te drink en besef hoe vlak die water onder die oppervlak is - as jy hier verkeerd ry is dit koebaai 4x4 ! Ons besoek die Topnaars van Homeb - sien 'n kameeldoringboom wat ± 1000 jaar oud is. Laatoggend draai ons wes - woestyn in - die duine lyk maar hoog so van die noorde kant af - maar hierdie gidse vind gou 'n pad tot bo - dan is dit weer "slipface" af deur die duinstraat en volgende duin oor. Vir die oujaar kamp ons in die middel van so 'n duinstraat. Die jong manne soek die hoogste duin op en sel op hulle "sand boards" af - ek dink die regte woord is "cool" !! Ons wag die nuwejaar in om die kampvuur onder 'n onbeskryflike sterrehemel.

Dinsdag 01/01/08 - nog verder wes en met rukke kan jy al die koeler seelug begin voel. Ons besoek 'n versteende duin - soos 'n nat sankasteel op 'n strand netjies oopgewaai tussen die ander duine. Laatmiddag besoek ons 'n paar myne (Grillenberger en Charlotten) of liewer wat oor is na soveel jaar in hierdie harde landskap - die woestyn is besig om sy grond terug te eis Leeukoppie is ons kamp vir die aand en "sundowners" op die rots is maar koud en winderig.

Woensdag 02/01 - suid tot by Fishersbrün. Hier kry ons die aand om die kampvuur besoek van 'n Strandjutwolf. Eerste keer dat ek een in lewede lywe sien - groot bonus vir die hele groep - die gids vertel dat net so 6% besoekers aan die woestyn die vooreg het - die jakkalse is nie so tevrede met die besoeker nie. Gedurende die nag kry die jakkalse 'n waterkan in die hande en kou die kraantjie af en drink helfte van die kan uit !

Donderdag 03/01 - ons draai noord - nou is dit strandlangs en die gety speel saam en ons ry teen die Langewand af. By die wrak van die Edward Bolan sien ons sowaar vir "Eddie" die inwonende Strandjut - dubbel bonus. Middag moet ons duine in na ons kamp maar die wind speel nie saam nie en een van die voertuie kom 'n klein "mistakie" oor by 'n kort duintjie. Die gidse maak gou plan met die beskadigde verkoeler en ons is weer oppad. Ons soek skuiling van die wind en kamp in 'n klein inham styf teen die water van Sandvis hawe. Dis pragtig hier en die water so kalm soos 'n meer. Dis ons laaste aand in die woestyn en ek kan sien almal raak al meer nadenkend en stil. Dit is werklik 'n spesiale plek hierdie wat jou innooi en lewe wys waar jy nie gedink het lewe is moontlik nie - maar die aanpassing om hier te oorleef kom net oor honderde - selfs duisende jare - ons sal altyd net besoekers wees.

Vrydag 03/01 - Walvisbaai wag - en die Eisbein by die Swakopmund Bräuhaus - maar eers is daar 'n paar meneer duine wat wag - om nie te praat van die "Land Rover graveyard" nie. My Defendertjie kry sommer so hup in sy stap - vandag gaan ons hulle wys...ag nee man daai Cruiser bakkie reverse dan sommer daar op......!!! Al te gou glip ons by die laaste duin af en is ons op die lang strand - vissermanne net waar jy kyk.

Al gedagte wat in my kop maal is.......wanneer sal ek weer hier kan wees.

Rudi en Mien

 
 
© 2011 4x4 Offroad Adventure Club - All Rights Reserved   South Africa